Fichardtpark inwoners is bevoorreg om verskeie oop ruimtes en/of parke in die woonbuurt te hê. Dit sluit dan “natuurparke” in waar ongelooflike biodiversiteit voorkom en ook baie beskermde plante. Gedurende die parkeprogram word die gras gesny om netheid te bevorder en ook om sekuriteitsredes. Met dié program word die beskermde plante geïdentifiseer en word daar gepoog om hulle te beskerm deur met ‘n bossieslaner rondom die spesifieke plante skoon te maak voordat die park gesny word.
Sien foto van Ferreirapark.
Met hierdie kort bewusmakingsartikels wil ons graag ons gemeenskap die voorreg gee om die plante te geniet en sal daar gepoog word om gereelde inligting te verskaf. Daar is baie kundiges in biodiversiteit in ons gemeenskap en hulle word genooi om deel te neem en kontak te maak met ons sodat ons die projek kan verbeter.
Ammocharis coranica
Arikaans: Gifbol, Berglelie, Seeroogblom
Engels: Karoo lily, Koranna lily, Sore eye flower, Bible flower, Ground lily
Sesotho: Boka

Voordat die park se gras gesny word, word die gras rondom die gifbolkolonies eers kort gesny om die plante so te beskerm.

Ammocharis coranica, doen sy naam gestand vanweë sy treffende geronde
helderpienk of rooi blomme met ‘n soet reuk, wat naglewende motte lok, sodat die blomme bestuif kan word. Hierdie uitsonderlike vertoning van die blomme na goeie somerreëns maak dit een van die aantreklikste spesies in die amaryllis-familie. Die sade is vlesig en met ‘n dun membraan bedek.
Die plant blom tussen September en Maart.
Dit is ‘n beskermde plant en mag nie gepluk, beskadig of verwyder word nie.
Die boetes is baie hoog en kan met gevangenisstraf gepaardgaan. (Vrystaat
Natuurbewaringsordonansie, Ord 8 van 1969, hoofstuk 6, Algemeen; 40:
Oortredings en boetes; 1 (i) )

Interesante feite oor die Gifbol wat ‘n baie nuttige plant in baie Afrika kulture is:
- Aftreksels van hierdie bolplant word deur die Zulu’s gebruik om
geestestoestande te behandel wat deur toordery veroorsaak is; - ‘n Pasta (gom) word gemaak van gekookte bolle vir die herstel van kleipotte;
- Alhoewel die plant giftig is (vandaar die naam Gifbol) word dit ook gebruik om pitswere te behandel;
- In die Kalahari word gekneusde bolle met water gemeng en gebruik as ‘n braakmiddel;
- Ander gebruike van die Amaryllidaceae familie, soos die Boophane disticha, ook gifbol genoem, is dat die droë skubbe van die bol gebruik word as ‘n wond bedekking met besnydenis. ‘n Vlou aftreksel van die bol skubbe word ook gebruik as ‘n effektiewe sedasiemiddel.
Verwysings:
- Du Plessis, N. & Duncan, G. 1989. Bulbous plants of southern Africa, a guide to their cultivation and propagation. Tafelberg, Cape Town.
- Duncan, G., Jeppe, B. & Voigt, L. 2016. The Amaryllidaceae of southern Africa. Umdaus Press, Pretoria.
- Eliovson Sima , 1980, Wild Flowers of Southern Africa ; Dai Nippon Printing Co.Ltd
- Van Wyk, Sasa Malan. 1988,Veldgids tot Die Veldblomme van die Witwatersrand en Pretoria, Struik
- Van Wyk, Ben-Erik, Van Heerden, Fanie, & Van Oudtshoorn, Bosch, Briza, 2002, Poisonous Plants of South Africa.
- Ammocharis coranica | PlantZAfrica (sanbi.org)