Dit is alom bekend dat die waarde van eiendom in die Suide van Bloemfontein laer is as soortgelyke eiendom in die Noordelike voorstede.
Daar is verskeie faktore wat hiervoor verantwoordelik is, met die toeganklikheid na top skole, veiligheid en algehele netheid in die buurte wat as mees prominent beskou kan word.
Daar is egter een woonbuurt, Fichardtpark, wat besig is om hierdie marktendens met groot sukses die hoof te bied. Hul geheime wapen, die Fichardtpark Woonbuurt Assossiasie (FWA), het sedert 2010 ’n fenomenale impak op die buurt, en hul resultate is verstommend.
Wanneer daar van enige rigting in die buurt ingery word, is die netheid van die sypaadjies, middelmanne en parke opvallend. Instandhouding van infrastruktuur word behartig en misdaad word met ongehoorde sukses bekamp. Daarby pronk die buurt met van die beste skole in die dorp en saam skep dit ’n wenresep.
Vanuit die eiendomsmark se perspektief spreek dit vanself dat die teenwoordigheid van die FWA ’n direkte positiewe invloed op die waarde van eiendom het, en Fichardtpark staan kop en skouers uit wanneer dit by Suidelike voorstede in Bloemfontein kom.
Verder het die FWA ook vir Hospitaalpark betrek en word die Hospitaalpark Woonbuurt Assossiasie (HWA) as deel van die FWA bestuur. Dit is opwindend om die verskil in hierdie woonbuurt te sien binne ’n relatiewe kort tydperk.
Die inwoners van hierdie twee woonbuurte staan bankvas agter hierdie assossiasies. Dit is juis om hierdie rede dat Malan&Co. Real Estate die besluit geneem het om 20% van die totale verdiende kommissie vanuit verkope deur Malan&Co. in Fichardtpark en Hospitaalpark oor die volgende jaar aan die FWA en HWA te skenk.
Op die wyse skep ons ook die geleentheid aan inwoners om ’n reuse verskil te maak aan hul direkte omgewing bloot deur potensiële verkopers direk na die FWA of HWA te verwys.
Dit is vir Malan&Co. ’n voorreg om deur middel van hierdie inisiatief ’n ondersteunende rol aan te neem, en ons is opgewonde om te sien wat die toekoms vir hierdie twee woonbuurte inhou!
Vriendelike groete
LJ Malan
Become a Member of FNA Today to enjoy all the benefits.
Fichardt Park — The Place To Be
Where Families Flourish and Investments Last.




