NOOD: 0762773022
fwafna@gmail.com

COVID-19

Herwinning en riool observasie

Misdaad aangemeld in Mei 2020

Huisbraak
Van Iddekingelaan x2

Diefstal van ‘n motorvoertuig
Duffstraat

Diefstal uit ‘n motorvoertuig
Benaderylaan


Herwinning in Fichardtpark

Daar was al baie bydraes oor herwinning in Fichardtpark se glanstydskrif en die nuusbrief geplaas, en met die herwinning by huishoudings maak ons as Fichardtparkers ‘n reuse verskil om, nie net ons koolstofvoetspoor te verminder nie, maar ook aan die omgewing en die bewaring van ons kosbare biodiversiteit.

Data is van Julie 2015 bygehou en die hoeveelheid herwinbare materiaal wat nie na die stortingsterrein gegaan het nie, is 988359 kg = 988,359 ton tot en met 31 Mei 2020 (net in Fichardtpark). Die data sluit in dié van supermarkte, die hospitaal, dokterspreekkamers en kroeë. Vandat die herwinning elke tweede en laaste Saterdag van ‘n maand tussen 09:00 en 11:00 op die parkeerterrein van Pick ‘n Pay, langs die biblioteek, plaasvind (Junie 2018 tot 31 Mei 2020) is daar 23 711 kg herwinbare materiaal van huishoudings versamel. Die diensverskaffer sorteer die materiaal en verkoop dit dan aan die plaaslike “Terugkoopsentrums” (Buy-back Centres). Die produkte word dan aan verskeie herwinningsmaatskappye regoor Suid-Afrika verkoop.

Die herwinningsprodukte word gebruik om nuwe produkte te vervaardig, soos hieronder uiteengesit:

Plastiek: Die meeste plastiek wat ons koop of in verpakkings kry, het ‘n simbool op die plastiek: dit is ‘n driehoek-pylsimbool met ‘n nommer daarin aangedui. Die nommer verteenwoordig die soort plastiek waarvan die item gemaak is. Elke nommer verteenwoordig die chemise samestelling van die plastiek. Die nommers 1 – 7 word toegeken om die tipe plastiek te identifiseer. Sien hieronder:

Plastiek 1: PET – Polyethylene terephthalate
Dié plastiek is een van die mees algemene plastieksoorte wat gebruik word in kos- en koeldrankverpakkings. Die meeste koeldrank- en waterbottels word van PET-plastiek gemaak. Dié plastiek is baie gewild onder die informele herwinnaars (sakgrawers) omdat dit “goeie” waarde het. Dit neem omtrent 30 000 PET bottels om 1 ton herwinde PET plastiek te maak. Wanneer die plastiek verwerk word, word die volgende daarvan gemaak: Nuwe bottels, vesel vir duvets, jas binnevoerings, kussings, slaapsakke en jeans. Die groen PET bottels word herwin vir dakisolasie, terwyl bruin PET bottels weer vir die vervaardiging van “Plastiwood” gebruik, wat vir die maak van tuimeubels, banke en vloere gebruik word.

Plastiek 2: HDPE – High-density polyethylene
Dit is ‘n harde plastiek wat vir die vervaardiging van ‘n verskeidenheid houers gebruik word. Dit word algemeen vir bottels van skoonmaakmiddels, toiletmiddels en skoonheidsmiddels gebruik. Wanneer die plastiek herwin word, word dit gebruik om vullisdromme, emmers, bottels vir skoonmaakmiddels, omheiningspale, pype en plastiekmeubels te maak.

Plastiek 3. PVC – Polyvinyl chloride
Dié tipe plastiek is moeilik om te herwin en die meeste “Terugkoopentrums” aanvaar dit nie en daarom word dié tipe plastiek uitgefaseer en PET word as plaasvanger gebruik.

Plastiek 4. LDPE – Low-density polyethylene
Dit is ‘n sagte plastiek wat gebruik word vir inkopiesakke, seile en drukbottels. Wanneer dit herwin word, word dit gebruik vir seile, sagte houers en konstruksieseile.

Plastiek 5. PP – Polypropylene
Dié plastiek word gebruik vir die maak van roomyshouers, strooitjies, mikrogolfborde en houers, ketels, tuinmeubels, koshouers en bottelproppe. Die herwinde plastiek word gebruik vir die vervaardiging van wasgoedpennetjies, dromme, pype, tregters, motor batterye en plastiek skinkborde.

Plastiek 6. PS – Polystyrene
Dit is alle polystyrene (Foamelite) produkte. Dit word gebruik vir die maak van houers vir wegneemetes, klerehangers, en yoghurthouers. Wanneer dit herwin word, word dit gebruik vir die maak van gordynreëlings, liniale, saadhouers, en portretrame. Die plastiek word al hoe meer in die bouberyf gebruik as plafonne, ens.

Ongelukkig is daar geen herwinnaars in Bloemfontein wat die plastiek aanvaar nie. Moet dit asb nie in u herwinningshouer plaas nie.

Plastiek 7. Other
Hierdie plastiek tipe verteenwoordig ‘n verskeidenheid ander plastiekprodukte. Van die produkte word gemaak van ‘n verskeidenheid polimers en dit nie geskik vir herwinning in Suid Afrika nie en moet in die normale vullisstroom gevoeg word. Moet dit asb nie in u herwinningshouer plaas nie.

Glas
Glas kan oneindig herwin word. Ons ontvang net die volgende glasprodukte: glasbottels soos koeldrank-, drank- en kombuisbottels.

Die volgende word nie herwin nie: Keramiekware, Gloeilampe & neonligte, Pottebakkersware, Spieëlglas, vensterglas, drinkglase en Windskerms van motors.

Metaal:
Enige metaal kan herwin word en die metaal word weer gesmelt en in metaalprodukte gebruik. Aluminium en koper is baie waardevol en daarom word daar grootskaalse diefstal van die produkte ondervind in Suid Afrika.

Elektroniese Afval (E-waste)
Elektroniese afval is enige produk wat met krag of batterye werk. Die volgende produkte word uit e-afval verkry; plastiek, metale, silwer, goud, koper en brons. Al die medaljes wat vir die 2020 Olimpiese Spele in Japan vervaardig is, is uit e-afval vervaardig. Ongelukkig het COVID 19 die Spele gekortwiek.

Op die tweede Saterdag van September 2020, (12de) kan groter e-afvalprodukte soos yskaste, stowe, ens. na die herwinning gebring word. Kleiner e-afvalprodukte, kleiner as televisies en mikrogolfoonde, kan elke tweede en laaste Saterdag gebring word.

Huishoudings word versoek om hul herwinningsmateriale elke tweede en laaste Saterdae tussen 9:00 en 11:00 na die parkeerarea langs die biblioteek te bring.

Kennisgewing: Probeer alle om plastiekbottels en kartonbokse plat te trap om volumes te spaar. Vir enige verdere inligting, skakel gerus vir Duart Hugo of e-pos hom by: 082 789 4615, duarthugo99@gmail.com

Duart Hugo


Riool en COVID-19-toetsing

Suid-Afrika se COVID-19-toetsvermoë was verlede week slegs 22,400 per miljoen. Alhoewel hierdie getal hoër is as lande soos Brasilië, wat ‘n groter aantal infeksies het, is dit nog steeds nie voldoende nie. Met die skryf van hierdie artikel het ons slegs 1,567,084 mense getoets van meer as 59 miljoen inwoners. Dus is toetsing ‘n groot struikelblok in die bekamping van hierdie virus. Volgens die WGO is “80% van die infeksies lig of asimptomaties.” Dit beteken dat ‘n groot persentasie individue wat die virus versprei nooit formeel gediagnoseer word nie – ‘n problematiese statistiek vir die toetsstrategie van Suid-Afrika, wat afhanklik is van “die identifisering van geïnfekteerde persone, hul isolering , die opsporing van hul kontakte en diesulkes se isolering of plasing in kwarantyn” (theconversation.com). Dit is hier waar riool ter sprake kom.

Rioolepidemiologie

Sedert die begin van die jaar is dit bekend dat COIVD-19 in fekale stowwe opgespoor kan word en daarna in afvalwater getoets kan word. Hierdie soort navorsing is in Februarie deur ‘n Nederlandse waternavorsingsinstituut, KWR, gelei en is sedertdien in ander Europese lande, soos Spanje, as suksesvol bewys. Die SA Water Sakekamer het in April ‘n ooreenkoms met KWR aangegaan om die konsep hier in Suid-Afrika te bewys, en op 8 Junie het ‘n Suid-Afrikaanse laboratorium COVID-19 RNA suksesvol onttrek uit monsters wat net 4 dae tevore versamel is. Prof Anthony Turton van die Sentrum vir Omgewingsbestuur van die Universiteit van die Vrystaat was ‘n belangrike rolspeler in hierdie sukses.

Riool observasie

Die vermoë om vir COVID-19 te toets in afvalwater, stel wetenskaplikes in staat om die verspreiding van die virus op te spoor en asimptomatiese brandpunte te identifiseer sonder om miljoene individue te toets. Afvalwatertoetsing dien dus as ‘n vroeë waarskuwingstelsel vir moontlike uitbrake. Akkuraatheid in hierdie verband word verseker deur gereelde monsterneming by die rioolinlaat voordat dit na die rioolaanleg versprei word waar die behandeling toegepas word. Hierdeur kan wetenskaplikes die virus naspeur na buurte wat in dieselfde rioolstelsel invloei.

Hou die masker aan en maak die toiletdeksel toe

Die COVID-19-virus word meestal versprei deur druppels wat in die lug hang nadat iemand gehoes of genies het. Kleiner misdruppeltjies kan egter in die lug bly hang nadat die groter deeltjies al neergedaal het. Dit geld nie net vir mondelinge oordrag nie, maar ook vir fekale oordrag. ‘n Studie wat vroeër vandeesmaand gepubliseer is, het getoon dat die oordrag kan plaasvind wanneer die toilet gespoel word, deur die aërosolisering van die virus wat in die water is. Deur simulasies het wetenskaplikes getoon dat ‘n “massiewe opwaartse beweging van virusdeeltjies waargeneem word, met 40%–60% deeltjies wat bokant die toilet hang, wat tot grootskaalse verspreiding van virusse kan veroorsaak” (Li, Wang en Chen: 2020).

Instandhouding en onderhouding van infrastruktuur

Mislukking van munisipale infrastruktuur onderhoud en riooloorlope is volgens prof Turton ‘n “tydsame ontwikkeling van ‘n ramp.” Ons in Fichardtpark weet dit al te goed as u al ooit in Du Plooysingel, Van Rippensingel of Beddystraat gery het. Daarom is die voorkomende instandhouding van ons rioolinfrastruktuur noodsaaklik as dit kom by ‘n virus wat tot vier dae in ontlasting kan bly (om nie eers van alle ander siektes te praat nie).

Om ‘n gesonde omgewing vir inwoners te verseker, doen Colin Povall van Drain Busters, namens FWA-lede,  elke agt weke voorkomende instandhouding van die rioolstelsels in Fichardtpark.

Laastens moet u onthou dat die oordragsyfers via toiletpluim spesifiek vir COVID-19 nie goed gedokumenteer is nie, slegs met ander koronavirusse soos SARS. Boonop, wat die virus in oorloop van rioolwater betref, sê prof Turton: “Dit beteken nie dat die virus steeds aansteeklik is nie, hoewel daar ‘n mate van fekale-orale oordrag in gelykwaardige-geëvalueerde literatuur genoem word, ten minste van die SARS-virus.” Nietemin is rioolepidemiologie en toetsing ‘n goedkoop manier vir COVID-19-massatoetsings wat Suid-Afrika baie nodig het.

Chanté van Biljon


Fichardtpark misdaadbekamping

Ons almal het die behoefte om in ‘n veilige omgewing te bly en te werk. In 2014 stel die Fichardtpark Woonbuurt Assosiasie ons 100% Misdaadvryplan bekend. Hierdie plan het gegroei sodat ons vandag diensvlakooreenkomste met 7 verskillende sekuriteitsmaatskappye in plek het. Die hoeksteen van hierdie misdaadplan is Parkweg polisiestasie se Gemeenskap Polisieforum. Dit is hier waar misdaadinligting gedeel word en patrollies en padblokkades beplan word.

Dit is juis tydens hierdie misdaadvoorkomingspatrollies dat dit duidelik geword het dat daar nog baie gedoen kan word om ons eie misdaadvrye omgewing daar te stel. Daar is te veel oop hekke en motorhuise wat waargeneem word tydens hierdie patrollies. Dit is elke inwoner se verantwoordelikheid om hul eiendom te beskerm teen misdaad. Dit sluit roerende eiendom, soos byvoorbeeld motorvoertuie, in. Ons inwoners kan help deur betrokke te raak by ons patrollies. 

Die meeste misdaad word deur die dag gepleeg en is geleentheidsmisdade. Fichardtpark se misdaadpatroon wys duidelik dat daar waar daar baie menslike beweging is daar ‘n hoër misdaadrisiko is. Ons winkelsentrums, hospitaal en sosiale kuierplekke word geteiken deur hierdie geleentheids misdadigers.

Patrollies is die ruggraat van enige goeie misdaadvoorkomingsplan. Ons sekuriteitsspan ry gemiddeld 25000 km patrollies per maand. Daar is ‘n skerp afname in Fichardtpark se misdaadsyfer sedert 2014. Dit is ‘n duidelike bewys dat Fichardtpark Woonbuurt Assosiasie alles in sy vermoë doen om Fichardtpark te beveilig.  Ons sekuriteitsspan werk elke dag aan ons droom om van Fichardtpark ‘n 100% misdaadvrye woonbuurt te maak. 

Hoë risiko areas tans:

  • Buite Rosepark Hospitaal: Diefstal van motorvoertuie, diefstal uit motors en die onwettige parkering van motors. 
  • Pick ‘n Pay Southern Centre: Diefstal van bankkaarte.
  • Huisbrake: Huise wat nie aktiewe sekuriteitsmaatskappye alarmsstelsels het nie word geteiken. 

Moenie deel word van die misdaadstatistiek nie! Tree voorkomend op deur die volgende te doen:

  • Parkeer voertuie in sigbare en gekontroleerde areas, wat sal voorkom dat misdadigers geleentheid het en genoeg tyd het om hulle misdaad te pleeg.
  • Wees bedag wanneer u waardevolle items in u motor laai of uitlaai vir mense wat u dophou.
  • Bêre waardevolle items (soos handsakke en skootrekenaars) in die kattebak in plaas van op die sitplekke of waar dit met die blote oog gesien kan word.
  • Bêre items wat rondstaan en waarde het (soos fietse, tuingereedskap, elektroniese en meganiese toestelle) buite sig. 
  • Wees bedag wanneer u die OTM gebruik; moet niemand toelaat om hulp te verleen of selfs te sien wat op die OTM plaasvind nie. 
  • Kry ‘n sekuriteitsmaatskappy om sigbaarheid en veiligheid by u huis op te knap.
  • Maak seker dat alle sekuriteitsmaatreëls in plek is voordat u gaan rus (veiligheidshekke, motorhuise en vensters). 
  • Sit beligting rondom die woning; aktiveer alarms.

Wat beïnvloed reaksietyd in ‘n noodgeval?

  • Verkeerstoestande
  • Padreëls wat gehoorsaam moet word
  • Weersomstandighede
  • Kommunikasie tussen die kliënt, die beheerkamer en die reaksie offisier.

Malcolm Mostert


Lees meer

Wenke en toertjies vir inperking

Wat om te verwag op vlak 3 van die COVID-19-inperking

Die land beweeg na vlak 3 van die inperking en hier is ‘n lys van sommige moets en moenies.

Alles op hierdie lys moet voldoen aan gesondheidsprotokolle.

Toelaatbaar:

  • Groothandel- en kleinhandelwinkels
  • Alle verkope van klere
  • Alle verkope van toestelle
  • Verkoop van alkohol van Maandag tot Donderdag tussen 9:00 en 17:00
  • Aanlyn verkope van alkohol en aflewering, slegs van Maandag tot Donderdag tussen 9:00 en 17:00
  • Binnelandse lugreise vir werksdoeleindes (permit/brief van werkgewer word vereis)
  • Begrafnisse beperk tot 50 mense
  • Kerkdienste beperk tot 50 mense
  • Terugkeer van huishulpe
  • Oefening tussen 6:00 en 18:00
  • Terugkeer na skool vir graad 7 en 12 (onderhewig aan verandering)
  • Deurry-en afhaaldienste

Nie toelaatbaar nie:

  • Beweging oor provinsiale, distriks- en metrogrense of verklaarde koronavirus-gevaarareas (permit word vereis)
  • Verkoop van tabakprodukte
  • Sosiale byeenkomste (insluitende besoeke aan vriende en familie)
  • Opening van gimnasiums en sportklubs
  • Opening van sjebiens, kroeë, nagklubs en teaters
  • • Alkoholgebruik op die perseel (slegs tuisverbruik)
  • Opening van haar-, nael- en skoonheidsalonne
  • Toegang tot strande of parke
  • Opening van gastehuise, hotelle en casino’s

Daar word steeds van alle burgers verwag om maskers/lapbedekkings in openbare ruimtes te dra, sosiale afstand te beoefen en ander gesondheidsprotokolle te volg.

Hier is die volledige lys


Geestesgesondheid tydens COVID-19 isolasie

Isolasie kan ‘n geweldige prys op u psige neem; voeg boonop rekeninge, verlies aan inkomste en vrees vir u gesondheid in, en die COVID-19-inperking kan u tot die rand van geestelike ineenstorting bring. Dit is vanselfsprekend dat diegene met geestesiektes ekstra sorg moet dra, maar diegene wat hulself as geestelik gesond beskou, moet nie tekens en simptome van akute depressie en angs ignoreer of vertraag nie.

Dit kan die volgende insluit:

  • Lae gemoedstemming
  • Slaaploosheid
  • Slaap te veel
  • Nagmerries
  • Ongewenste herinneringe
  • Droë mond
  • Woede
  • Prikkelbaarheid
  • Emosionele uitputting
  • Paniek aanvalle
  • Verloor eetlus
  • Verhoogde eetlus
  • Geniet nie dié aktiwiteite wat jy voorheen geniet het nie

Vir diegene wat aan geestesongesteldheid ly, het prof Renata Schoeman, bestuurslid van die Psychiatry Management Group (PsychMG), het aangeraai dat dit noodsaaklik is om goed en stabiel te bly deur tred te hou met die nodige behandeling.  Vermy hospitalisaie omrede die gesondheidsbronne wat beskikbaar is, onderdruk word deur die inpak van COVID 19. reeds beskikbaar is deur covid 19 en die behoefte aan hospitalisasie te vermy wanneer die gesondheidsorgbronne wat beskikbaar is gerek is deur die impak van COVID-19. Dit is nie net alleenlik om moontlike blootstelling aan die koronavirus te beperk wanneer pasiënte in ‘n hospitaal opgeneem moet word vir ‘n psigiatriese toestand nie, maar ook omdat medikasie soos gemoedstabiliseerders en anti-psigotika nie maklik, indien enigsins, voortgesit kan word indien hulle in die Intensiewe Sorg Eenheid opgeneem word en veral as hulle ventilasie benodig.

CIPLA adviseer:

  • Handhaaf ‘n daaglikse roetine.
  • Beperk die dekking van media en sosiale media om te voorkom dat dit te oorweldigend raak. Verkry slegs inligting uit geloofwaardige nuusbronne.
  • Erken jou gevoelens en fokus op dinge wat jy kan beheer.
  • Soek dinge om jou besig te hou (of dit nou konstruktief of kreatief is) om jou gemoedstoestand te help.
  • Bly in kontak met jou geliefdes via tegnologie.
  • As jy medikasie gebruik, gebruik dit soos voorgeskryf.

Telehealth-dienste:

  • Suid-Afrikaanse Depressie-angsgroep (SADAG): 0800 21 22 23/0800 70 80 90. SADAG WhatsApp-ondersteuning (9:00 tot 16:00): 076 882 2775 / of SMS 31393 of 32312 en ‘n berader sal terugskakel
  • Lewenslyn Suid-Afrika: 0861 322 322
  • Departement van Gesondheid: 060 012 3456 (WhatsApp “hi” vir toegang tot uitgebreide COVID-19-inligting).
  • Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes tolvrye COVID-19-blitslyn: 0800 0299 ​​299

Aanlyn-ingrypings:

Everyone OK is ‘n België-webwerf wat ontwerp is om geestesgesondheid te verbeter tydens die COVID-19-inperking. Dit is ‘n deeglike en uitgebreide oefening in die bepaling en aanspreeking van geestesgesondheid vir volwassenes en kinders. https://www.everyoneok.be/

Geestesgesondheid is noodsaaklik, en dus is alle psigiatriese fasiliteite en praktisyns toeganklik op alle sluitingsvlakke.

.


Wenke en toertjies vir tuisonderrig tydens inperking

Die meeste studente sal nie op 1 Junie terugkeer skool toe nie, wat beteken dat ouers en voogde na hul derde maand van tuisonderwys ingaan.  Ouers word ingespan in die rol van onderwyser sonder die nodige hulpbronne en voorbereidingstyd vir dié veeleisende taak.  Boonop is struikelblokke grooter vir ouers wat noodsaaklike diens verrig nie tuis kan bly om met skoolwerk te help nie.  

Ouers

Onderhoude met ouers het dit duidelik geword dat hoërskoolleerders meer onafhanklik kan werk as laerskoolleerders. Dit beteken egter nie dat hoërskoolleerders nie nou en dan hulp van ‘n ouer nodig het nie.

Verstaanwerk

Die eerste probleem waarmee ouers te kampe het, is die kundigheid om hul kinders te help, selfs kinders in die laerskool wat objektief makliker werk het, maar meer ouerlike bystand benodig. Dit is veral waar as dit kom by vakke wat begrip benodig (in plaas daarvan om dit te onthou), en daar is ‘n paar maniere waarop ouers dit benader. Sommige ouers probeer om hul bestaande kennis van die onderwerp toe te pas en probeer vasstel wat verstaan ​​moet word. Ander kyk die handboeke deeglik deur om die werk beter te verstaan ​​en soek voorbeelde om hul kinders te help. Verder het ouers besef dat Google hul vriend is. Feitelik enige verduideliking of tutoriaal kan gevind word deur ‘n Google- of YouTube-soektog. Ouers maak van sekere metodes gebruik indien hul pogings misluk: direkte kontak met die onderwysers asook die gebruik van tutors via Zoom of Skype.

Roetine

Baie ouers weerspieël dat roetine die sleutel tot sukses is. Dit beteken om kinders soggens uit die bed te kry, en dat hulle uit hul pyjamas moet spring en moet begin met die werk wat vir hulle die dag of week gestuur is.  Afhangend van die skool, word die werk op ‘n Maandag (‘n week se werk) of daagliks tussen 8:00 en 12:00 deurgestuur.  Diegene wat wag vir werk wat elektronies gestuur word, verkies hulle om hul skooldag vroeg in die middag te begin, wanneer die skool gewoonlik sou geëindig. Vir ander ouers is dit beter om hul kinders ongeveer 9:00 uit die bed te kry en hulle ‘n paar uur lank hul skoolwerk te laat doen.  Ouers verwag gewoonlik nie dat hul kinders meer as ‘n uur aan een onderwerp moet werk nie.

Ouers wat bedags moet werk, het hul eie uitdagings.  Hulle vertrou dat hul kinders die dissipline aan die dag sal lê het om hul eie roetine uit te voer. Hierdie ouers spreek dit aan deur bedags hul kinders te bel en hersiening te doen met hul kinders as hulle tuis kom.

Toegang tot die internet

Skoolwerk is op ‘n rekenaar of slimfoon aanlyn toegangklik. Onderwysers stuur dokumente en video’s wat kinders kan gebruik om hul werk gedoen te kry. Dit is dikwels ‘n probleem vir huishoudings wat nie onbeperkte data het nie, wat daaglikse take redelik duur maak. Daar is geen vinnige oplossings hiervoor nie, maar opvoeders kan sekere voorstelle maak.

Onderwysers

Onderwysers het begrip oor die probleme wat ouers gedurende hierdie tyd ondervind.  Diegene met wie ek gepraat het, het baie waardevolle raad gegee.

  1. Roetine is noodsaaklik. Vir ouers wat sukkel om ‘n werkbare roetine op te stel of vir leerders wat oorweldig is met waar om te begin met hul werk, word dit voorgestel dat leerders hul gereelde skoolrooster volg om vas te stel aan watter vakke hulle moet werk.
  2. Samewerking tussen ouer en kind is belangrik. Vir produktiwiteit, moet daar gewerk word op ‘n roetine wat vir almal werk; ouers moet met hul kinders kommunikeer en andersom.
  3. Verwyder alle afleidings (met die uitsondering van die tegnologie wat die kind benodig) en voorsien ‘n netjiese en toegewyde werkruimte vir kinders.
  4. Kommunikeer met onderwysers as u voel dat u nie die hulpbronne het om die nodige werk te voltooi nie. Onderwysers het groot deernis en is bereid om alternatiewe metodes te gee om aan te hou leer. Dit behels dikwels bloot die werk in die handboek soos uiteengesit aan die begin van die jaar/semester. Kinders kan WhatsApp met vriende indien hulle hulp benodig wat ‘n ouer nie kan verskaf nie en as werk glad nie voltooi kan word nie, word dit aanbeveel dat kinders lees. Lees met begrip is ‘n vaardigheid wat by baie skole ontbreek en om hierdie vaardigheid gedurende hierdie tyd ontwikkel is van onskatbare waarde.
  5. Die regering en internet-/netwerkdiensverskaffers het verskillende hulpbronne beskikbaar gestel wat YouTube-video’s, TV-programme, radiostasies en nul-gegradeerde (geen data benodig nie) webwerwe insluit. Vind alle inligting hier.
  6. Die belangrikste advies is om nie te stress nie. Onderwysers verstaan ​​die probleme waarmee leerders te kampe het en wanneer hulle terugkeer na die skool, sal daar uitgebreide heraanpassing gedoen word.

Op ‘n finale noot, kinders mag dit dalk nie wys nie, of hulle wil nie daaroor praat nie, maar fisiese afstand van vriende, sosiale aktiwiteite en ‘n gebrek aan spel met vriende kan sy tol eis ondanks virtuele interaksies. Hier is ‘n paar dinge wat ouers kan doen:

  1. Praat met hulle oor wat aangaan. Ontdek hoe hulle voel en waaraan hulle dink. Laat hulle weet dat dit goed is om bang of onseker te voel en probeer om hul vrae te beantwoord en hulle op hul ouderdomsvlak gerus te stel. Onthou, u hoef nie al die antwoorde te ken nie, maar om dinge te bespreek sal kinders veilig en kalmer voel.
  2. Help hulle om na te dink oor hoe hulle voel en moedig hulle aan om na te dink oor die dinge wat hulle kan doen om hulle veiliger en minder bekommerd te laat voel.
  3. Verseker hulle dat dit sal verbygaan, jy is daar vir hulle en dat julle dit saam sal deurmaak.
  4. Spandeer tyd aan ‘n positiewe aktiwiteit met jou kind (soos lees, speel, skilder of kook) dit help om hulle gerus te stel en hul angs te verminder. Dit is ook ‘n wonderlike manier om ruimte vir hulle te bied om oor hul bekommernisse te gesels, sonder om ‘n ‘groot geselsie’ te hê.
  5. Hou soveel gereelde roetines as moontlik, sodat jou kind veilig voel en dat dinge stabiel is.
  6. Ouers moet ook hul kinders aanmoedig om te oefen.

Besoek die webwerf van die Departement van Onderwys. Dit bied wonderlike advies en hulpbronne.


Lees meer

Ons inperking reaksie en ontmoet nog ‘n lid van ons gemeenskap

Misdaad aangemeld in Maart 2020

Huisbrake (residensiële)
Benaderylaan
Van der Lindestraat
Willie du Plessisweg
Amie Pretoriusweg

Huisbrake (besighede)
Usmarstraat
George Smethamstraat

Diefstal van af/uit motorvoertuie
Gustav Crescent

Diefstal van motorvoertuie
Benaderylaan


Wat ons gedoen het in 35 dae van inperking

Tydens hierdie uitdagende COVID-19-pandemie, het ons FNA-struktuur, wat oor die afgelope tien jaar opgebou is, ons goed gedien. Ons sekuriteitsbestuurders het gemoedsrus tydens die grendelstaat bewerkstellig. Ons bedank Vicus, Malcolm, Marius en Jeandré wat 81 sake aangespreek het, insluitend bystand by twee mediese noodgevalle.

Die FWA het voorkomende instandhouding aan problematiese rioolstelsels in Fichardtpark gedoen. Die volgende strate is gediens: Du Plooysingel, Fonternelstraat, Van Rippensingel, Benaderylaan en Stollreitherstraat.  Ons is dankbaar teenoor Drain Busters wat hierdie diens gelewer het.

Op 6 April het die FWA twaalf vragte onwettige stortings in Fichardt Park verwyder. Ons dank aan Waste Retrievers wat die FWA bygestaan het met hierdie taak.

Die FWA, is samewerking met Ryan Hamaty van Saverite, reik uit na die gemeenskap in Fichardtpark tydens die grendelstaattydperk.  Ons het ‘n kospakkie ter waarde van R250 saamgestel en versoek inwoners om ‘n bydrae te lewer met hierdie belangrike inisiatief wat op 25 April 2020 van stapel gestuur is.  Ons het vanaf 27 April begin om die kospakkies te versprei onder mense in Fichardtpark wie nood het aan essensiële produkte.  Besoekk ons Facebookblad vir meer inligting.

Diegene wat liefde ontvang het, is onoorwinlik.

Dankie vir u volgehoue ondersteuning.

Fichardtpark is ‘n plek om te wees!

Jacques Meiring



COVID-19: ‘n blik op die toekoms (opinie stuk)

Terwyl ons vlak vier van die COVID-19-inperking betree, is ons nie veel nader aan ‘n kuur of entstof nie. Daar is baie vals inligting in omloop en mense raak desperaat. Daar is angs en frustrasie in die lug en miskien word mense ‘n bietjie wanhopig want die droom van ‘n terugkeer na normaliteit word al hoe dowwer. Hierdie artikel gaan egter nie oor kajuitkoors, armoede, ekonomiese ondergang en dood nie, maar eerder oor onderviding wat ons opgedoen het en geleer het soos wat ons na die volgende fase van inperking beweeg.

Ons leiers

In hierdie tyd maak burgers van die wêreld baie staat op hul leiers vir leiding en gerusstelling, en Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Ons regering het vinniger gereageer as ander lande ná die eerste aangemelde geval – dit het getoon dat ons president die lewens van die burgers bo die ekonomie plaas, en, in ‘n groot mate, steeds so doen.

Waar baie mense in die verlede wanhopig was oor die onbevoegdheid van ons regering tov dienslewering, korrupsie, misdaad, armoede en haweloosheid, vorm die regering se optrede tydens hierdie krisis ‘n ander prentjie. Byvoorbeeld, munisipaliteite regoor die land het getoon dat hulle binne 21 dae duisende haweloses kan huisves – hetsy deur skuilings op te rig of te identifiseer. Volgens die Daily Maverick: “Lesufi (Gauteng acting social development MEC) said it would be “a miscarriage of justice” if people were put back onto the streets after the lockdown.” ‘n Gesindheid wat die afgelope jare bitterlik afwesig was tydens openbare retoriek oor haweloses.

Positiewe impak op die ekonomie

Die ekonomie lyk baie sleg as gevolg van die inperking. Baie van u gaan dalk nie ‘n salaris in Mei ontvang nie en die nuwe driefase ekonomiese reaksie sal waarskynlik nie dadelik verligting bring nie. Die inperking het egter ‘n interessante wending tot gevolg gehad en ‘n organiese hupstoot vir die ekonomie het op die voorgrond getree – die tegnologiebedryf.

Tegnologiese innovasie en ontwikkeling is gedwing om te versnel weens die aard van die COVID-19-krisis. Virtuele dienslewering en hulpmiddels, soos aanlyn mediese konsultasies en aanlynopvoedkunde, is nou in groot aanvraag en gevolglik het verskeie nywerhede nodig gehad om hierdie tegnologie vroeër as wat verwag is te ontwikkel en te gebruik. Op die lange duur beteken dit werkskepping. In Februarie van hierdie jaar, voordat ‘n ramptoestand selfs ‘n gedagte was, het SADA (Suid-Afrika in die Digital Age-inisiatief) geraam dat 500,000 nuwe werkgeleenthede in die tegnologiebedryf oor die volgende tien jaar geskep sal word. Hierdie tydlyn kan versnel; dalk sal ons binnekort ‘n groter tegnologiese arbeidsmag sien wat nie werkers met lae vaardighede uitsluit nie (‘n algemene wanopvatting). 

Die nuwe normaal

Ek dink dat ons het geleer het dat mense oor die algemeen ‘n groter vermoë tot vriendelikheid en deernis met hul medeburgers het as wat voorheen gedink is. Gemeenskappe het ongeag ras of godsdiens bymekaargekom om diegene in nood te help en selfs bendeleiers het wapenstilstand afgekondig om hul gemeenskappe te ondersteun. Alle geweldsmisdade het gedaal; misdade soos moord en verkragting het tussen 70-90% gedaal. Die minister van polisie, Bheki Cele, skryf dit grootliks toe aan die groter sigbaarheid van die polisie, die verbod op alkoholverkope en ‘n drastiese afname in die verspreiding van dwelms. Dit is nie die nuwe normaal nie, maar dit wys ons die potensiaal. Daarbenewens het ons geleer dat vir sommige is tuis werk nie onmoontlik nie, en dit bevoordeel ons planeet baie. Ons het perspektief op die situasie van ander in ons gemeenskap gekry. Ons is uit die daaglikse gewoel gedwing en het baie tyd gekry vir introspeksie. Boonop het ons bewus geword van dinge en mense wat ons as vanselfsprekend aanvaar het.

Dit is maklik om vasgevang te raak in samesweringsteorieë, die woorde van die doemprofete, die stryd van die hier en nou, en die vrees vir die toekoms se ergste situasie. Maar vroeër as wat u dink, sal ons weer drukkies gee en hande skud en terugdink aan ‘n tyd waneer die hele wêreld gesluit was.

Chanté van Biljon



Lidprofiele: Palesa Ranchobe

FWA-lede is ons fondasie; hulle stel ons in staat om die veiligheid van ons woonbuurt te verseker, ons strate en parke skoon te hou en diegene in nood by te staan. Daarom deel ons graag hul verhale met ons gemeenskap.

Ontmoet Palesa Ranchobe. Sy is ‘n vrou, ma en aspirant-mode-ontwerpster. In 2018 het Palesa by die Bloemfontein Fashion Academy begin. Sy hou daarvan om klere vir vroue en kinders te ontwerp, veral haar dogter. Verder het sy ‘n smaak vir kleur en patroon.

Die FWA wens haar alle geluk toe met die strewe na haar passie.


Lees meer

FICH-Mark 2020 en hoe om veilig te bly tydens ‘n pandemie

Misdaad aangemeld in Februarie 2020

HUISBRAKE
Theunissensingel
Tennantsingel
Steenkampstraat (2x)
Benaderylaan (2x)
Castelynrylaan
Amie Pretoriusstraat (2x)
Taintonstraat
Stocksingel

DIEFSTAL VANAF/UIT MO-TORVOERTUIE
Hannaweg
Reelerstraat

ROOF
Benaderylaan


Hoe Onwettige Storting U Geld Uit Die Sak Jaag

Die onwettige storing van vullis gebeur op verskillende maniere. Party voorbeelde sluit in (i) die storting van huishoudelike vullis of tuinafval op nabygeleë verkeerseilande of in parke, en (ii) die storing van bou-afval op openbare ruimtes.

Waarom is onwettige storting ’n probleem?

Die onwettige storting van afval is ’n groot probleem in Fichardtpark en dit het ’n uitwerking op die volgende: Afloopreënwater: onwettige storting kan inbreuk maak  op die natuurlike afloop van water tydens reën of storms en kan moontlik flitsvloede veroorsaak.

  • Esterika: vullis wat onwettig gestort is, is baie onooglik in Fichardtpark se andersins pragtige omgewing.
  • Plant- en dierelewe: onwettige storing kan ’n negatiewe uitwerking op baie natuurlike plant- en dierespesies hê wat na gesondheidsprobleme en selfs die dood kan lei.
  • Veiligheid en gesondheid: indien afval gestort word in ’n area wat toeganklik is vir die publiek en veral vir kinders – soos in ons parke – word ons aan gesondheid- en beseringsrisiko’s blootgestel.

Hoe raak onwettige storting u?

Omdat u ledegeld betaal, kan die FWA die woonbuurt skoon en veilig hou. Net gedurende hierdie jaar het ons reeds 100 vragte onwettige stortings verwyder, teen die koste van duisende rand. Hierdie werk neem baie tyd en verdeel dus die sekuriteitspan se aandag.

Wat kan u doen?

  • Rapporteer asseblief onwettige storting by ons 24-uur-noodnommer: 076 277 3022.
  • Indien u sien dat iemand onwettig vullis stort, kry beskrywende inligting van die oortreder, neem foto’s van die optrede, insluitend die nommerplaat van die oortreder se voertuig.
  • Indien u op u eiendom bouwerk doen en bou-afval op u sypaadjie het, moet dit asseblief binne 7 dae verwyder
  • Wanneer u u weeklikse vullis uitsit, onthou dat dit slegs huishoudelike afval mag wees, geen tuinafval nie.
  • Moenie u afval op verkeerseilande plaas nie (dit gebeur algemeen in Castelynrylaan, Benaderylaan, Olive Grinterlaan en Eric Rosendorflaan.


FICH-Mark 2020

Fichardtpark Woonbuurt Assosiasie het weereens ‘n mylpaal in hul bestaan bereik toe ons op 28 Februarie 2020 ons eie mark van stapel  gestuur het.

Alles is moontlik gemaak deur die talentvolle inwoners van Bloemfontein.

Die hoofdoel van hierdie ‘n mark is om finansiële onafhanklikheid te bewerk, veral in die huidige ekonomiese toestande waarin die land haarself bevind. Nog ‘n bepalende faktor was om blootstelling te gee aan mense met talent, asook aan besighede wat tuis bedryf word.

Maandelange beplanning deur ‘n gedugte bestuurspan het gelei tot die fenominale sukses van ons eie mark wat ons stoutste verwagtinge oortref het! Sonder die hulp van ons Voorsitter, Kobus Olivier, en kantoorbestuurder, Jacques Meiring, bygestaan deur Fichardtpark NG kerk se wenspan, sou dieselfde mate van sukses nie bereik kon word nie.

Stalletjies met verskeie produkte het gewissel van leerartikels, kleding, skoene, houtwerk, wateropgaartenks, handwerk, heerlike gebak, skoonheidsprodukte, plante en kosstalletjies het natuurlik die grootste aftrek gekry, want ons nasie hou van smul!

Die springkastele wat deur Bloemsec geborg is, het kinders vermaak sodat die familie in die veiligheid van ons buurt kon ontspan.

Radio Rosestad met Johan Gunter het gesorg vir spitsvondige vermaak en deurlopende kommentaar  en ons is baie dankbaar vir die blootstelling wat hul aan ons gegee het deur die radio onderhoud waar Susan van Eck ons administratiewe dame almal ingelig het oor die bedrywighede van die mark.

Stellar brouerye het bygedra tot die gemoedelike atmosfeer, want wat is ‘n suksesvolle mark nou sonder so ‘n ou lafenissie.

Motorwagte, saam met die wakende oog van Bloemsec sekuriteit en ons eie sekuriteitsbestuurders het verder verseker dat almal kon kuier en hulself geniet.

Ons is dankbaar vir elke seëning wat uit die mark gespruit het.  Beplanning van die volgende markte  sal afhang van die gesondheidskrisis op hande.  Die mark is vir ons belangrik omdat ons almal bymekaar bring as ‘n OMGEE NASIE.

Alma Fourie


COVID-19: Hoe om veilig te bly

Was gereeld hande

Herhaaldelike en deeglike skoonmaak van hande met ‘n alkoholbasis vloeistof of was gereeld met seep en warm water.

Hoekom? Die was van jou hande met seep en water of alkoholbasis vloeistof sal die virus doodmaak wat op u hande mag wees.

Handhaaf ‘n goeie afstand tussen mense

Handhaaf ten minste 1 meter (3 voet) tussen uself en ander mense wat hoes of nies.

Hoekom? As iemand hoes of nies, spuit klein druppels van hulle neus en mond wat die virus mag bevat.  Indien u te naby aan hulle is, kan u die druppels inasem, asook die COVID-19 virus, sou die persoon geïnfekteer wees.

Vermy aanraking van oë, neus en mond

Hoekom? Hande raak aan baie oppervlaktes waar die virus kan vaskleef. Indien oppervlaktes besmet is, kan jou hande die virus na jou oë, neus of mond oordra vanwaar dit die liggaam kan binnedring en u siek maak.

Beoefen respiratoriese higiëne

Maak seker dat mense om u goeie respiratoriese higiëne beoefen. Dit beteken om die neus en mond toe te hou met ’n sneesdoekie of in die waai van die elmboog te hoes of nies. Gooi dadelik die sneesdoekie weg nadat dit gebruik is.

Hoekom? Druppeltjies versprei die virus. Deur goeie respiratoriese higiëne te beoefen beskerm ons mense om ons van griep en die COVID-19 virus.

Indien u koors het, hoes en sukkel met asemhaling, kry dadelik mediese hulp.

Bly tuis as u nie lekker voel nie.  Indien u koors het of sukkel met asemhaling, soek dadelik mediese hulp en skakel voordat u ‘n dokter besoek.  Volg die aanwysings van die plaaslike gesondheidsowerheid.

Hoekom? Nasionale en plaaslike owerhede sal die mees onlangse informasie hê en as u vooruit skakel sal dit help om u vining by die korrekte gesondheidsfasiliteit te kry. Dit sal u ook beskerm en die verspreidng van die virus en ander infeksies beperk.

Bron: World Health Organization



Lees meer