NOOD: 0762773022
fwafna@gmail.com

Blog

Herwinning en riool observasie

Misdaad aangemeld in Mei 2020

Huisbraak
Van Iddekingelaan x2

Diefstal van ‘n motorvoertuig
Duffstraat

Diefstal uit ‘n motorvoertuig
Benaderylaan


Herwinning in Fichardtpark

Daar was al baie bydraes oor herwinning in Fichardtpark se glanstydskrif en die nuusbrief geplaas, en met die herwinning by huishoudings maak ons as Fichardtparkers ‘n reuse verskil om, nie net ons koolstofvoetspoor te verminder nie, maar ook aan die omgewing en die bewaring van ons kosbare biodiversiteit.

Data is van Julie 2015 bygehou en die hoeveelheid herwinbare materiaal wat nie na die stortingsterrein gegaan het nie, is 988359 kg = 988,359 ton tot en met 31 Mei 2020 (net in Fichardtpark). Die data sluit in dié van supermarkte, die hospitaal, dokterspreekkamers en kroeë. Vandat die herwinning elke tweede en laaste Saterdag van ‘n maand tussen 09:00 en 11:00 op die parkeerterrein van Pick ‘n Pay, langs die biblioteek, plaasvind (Junie 2018 tot 31 Mei 2020) is daar 23 711 kg herwinbare materiaal van huishoudings versamel. Die diensverskaffer sorteer die materiaal en verkoop dit dan aan die plaaslike “Terugkoopsentrums” (Buy-back Centres). Die produkte word dan aan verskeie herwinningsmaatskappye regoor Suid-Afrika verkoop.

Die herwinningsprodukte word gebruik om nuwe produkte te vervaardig, soos hieronder uiteengesit:

Plastiek: Die meeste plastiek wat ons koop of in verpakkings kry, het ‘n simbool op die plastiek: dit is ‘n driehoek-pylsimbool met ‘n nommer daarin aangedui. Die nommer verteenwoordig die soort plastiek waarvan die item gemaak is. Elke nommer verteenwoordig die chemise samestelling van die plastiek. Die nommers 1 – 7 word toegeken om die tipe plastiek te identifiseer. Sien hieronder:

Plastiek 1: PET – Polyethylene terephthalate
Dié plastiek is een van die mees algemene plastieksoorte wat gebruik word in kos- en koeldrankverpakkings. Die meeste koeldrank- en waterbottels word van PET-plastiek gemaak. Dié plastiek is baie gewild onder die informele herwinnaars (sakgrawers) omdat dit “goeie” waarde het. Dit neem omtrent 30 000 PET bottels om 1 ton herwinde PET plastiek te maak. Wanneer die plastiek verwerk word, word die volgende daarvan gemaak: Nuwe bottels, vesel vir duvets, jas binnevoerings, kussings, slaapsakke en jeans. Die groen PET bottels word herwin vir dakisolasie, terwyl bruin PET bottels weer vir die vervaardiging van “Plastiwood” gebruik, wat vir die maak van tuimeubels, banke en vloere gebruik word.

Plastiek 2: HDPE – High-density polyethylene
Dit is ‘n harde plastiek wat vir die vervaardiging van ‘n verskeidenheid houers gebruik word. Dit word algemeen vir bottels van skoonmaakmiddels, toiletmiddels en skoonheidsmiddels gebruik. Wanneer die plastiek herwin word, word dit gebruik om vullisdromme, emmers, bottels vir skoonmaakmiddels, omheiningspale, pype en plastiekmeubels te maak.

Plastiek 3. PVC – Polyvinyl chloride
Dié tipe plastiek is moeilik om te herwin en die meeste “Terugkoopentrums” aanvaar dit nie en daarom word dié tipe plastiek uitgefaseer en PET word as plaasvanger gebruik.

Plastiek 4. LDPE – Low-density polyethylene
Dit is ‘n sagte plastiek wat gebruik word vir inkopiesakke, seile en drukbottels. Wanneer dit herwin word, word dit gebruik vir seile, sagte houers en konstruksieseile.

Plastiek 5. PP – Polypropylene
Dié plastiek word gebruik vir die maak van roomyshouers, strooitjies, mikrogolfborde en houers, ketels, tuinmeubels, koshouers en bottelproppe. Die herwinde plastiek word gebruik vir die vervaardiging van wasgoedpennetjies, dromme, pype, tregters, motor batterye en plastiek skinkborde.

Plastiek 6. PS – Polystyrene
Dit is alle polystyrene (Foamelite) produkte. Dit word gebruik vir die maak van houers vir wegneemetes, klerehangers, en yoghurthouers. Wanneer dit herwin word, word dit gebruik vir die maak van gordynreëlings, liniale, saadhouers, en portretrame. Die plastiek word al hoe meer in die bouberyf gebruik as plafonne, ens.

Ongelukkig is daar geen herwinnaars in Bloemfontein wat die plastiek aanvaar nie. Moet dit asb nie in u herwinningshouer plaas nie.

Plastiek 7. Other
Hierdie plastiek tipe verteenwoordig ‘n verskeidenheid ander plastiekprodukte. Van die produkte word gemaak van ‘n verskeidenheid polimers en dit nie geskik vir herwinning in Suid Afrika nie en moet in die normale vullisstroom gevoeg word. Moet dit asb nie in u herwinningshouer plaas nie.

Glas
Glas kan oneindig herwin word. Ons ontvang net die volgende glasprodukte: glasbottels soos koeldrank-, drank- en kombuisbottels.

Die volgende word nie herwin nie: Keramiekware, Gloeilampe & neonligte, Pottebakkersware, Spieëlglas, vensterglas, drinkglase en Windskerms van motors.

Metaal:
Enige metaal kan herwin word en die metaal word weer gesmelt en in metaalprodukte gebruik. Aluminium en koper is baie waardevol en daarom word daar grootskaalse diefstal van die produkte ondervind in Suid Afrika.

Elektroniese Afval (E-waste)
Elektroniese afval is enige produk wat met krag of batterye werk. Die volgende produkte word uit e-afval verkry; plastiek, metale, silwer, goud, koper en brons. Al die medaljes wat vir die 2020 Olimpiese Spele in Japan vervaardig is, is uit e-afval vervaardig. Ongelukkig het COVID 19 die Spele gekortwiek.

Op die tweede Saterdag van September 2020, (12de) kan groter e-afvalprodukte soos yskaste, stowe, ens. na die herwinning gebring word. Kleiner e-afvalprodukte, kleiner as televisies en mikrogolfoonde, kan elke tweede en laaste Saterdag gebring word.

Huishoudings word versoek om hul herwinningsmateriale elke tweede en laaste Saterdae tussen 9:00 en 11:00 na die parkeerarea langs die biblioteek te bring.

Kennisgewing: Probeer alle om plastiekbottels en kartonbokse plat te trap om volumes te spaar. Vir enige verdere inligting, skakel gerus vir Duart Hugo of e-pos hom by: 082 789 4615, duarthugo99@gmail.com

Duart Hugo


Riool en COVID-19-toetsing

Suid-Afrika se COVID-19-toetsvermoë was verlede week slegs 22,400 per miljoen. Alhoewel hierdie getal hoër is as lande soos Brasilië, wat ‘n groter aantal infeksies het, is dit nog steeds nie voldoende nie. Met die skryf van hierdie artikel het ons slegs 1,567,084 mense getoets van meer as 59 miljoen inwoners. Dus is toetsing ‘n groot struikelblok in die bekamping van hierdie virus. Volgens die WGO is “80% van die infeksies lig of asimptomaties.” Dit beteken dat ‘n groot persentasie individue wat die virus versprei nooit formeel gediagnoseer word nie – ‘n problematiese statistiek vir die toetsstrategie van Suid-Afrika, wat afhanklik is van “die identifisering van geïnfekteerde persone, hul isolering , die opsporing van hul kontakte en diesulkes se isolering of plasing in kwarantyn” (theconversation.com). Dit is hier waar riool ter sprake kom.

Rioolepidemiologie

Sedert die begin van die jaar is dit bekend dat COIVD-19 in fekale stowwe opgespoor kan word en daarna in afvalwater getoets kan word. Hierdie soort navorsing is in Februarie deur ‘n Nederlandse waternavorsingsinstituut, KWR, gelei en is sedertdien in ander Europese lande, soos Spanje, as suksesvol bewys. Die SA Water Sakekamer het in April ‘n ooreenkoms met KWR aangegaan om die konsep hier in Suid-Afrika te bewys, en op 8 Junie het ‘n Suid-Afrikaanse laboratorium COVID-19 RNA suksesvol onttrek uit monsters wat net 4 dae tevore versamel is. Prof Anthony Turton van die Sentrum vir Omgewingsbestuur van die Universiteit van die Vrystaat was ‘n belangrike rolspeler in hierdie sukses.

Riool observasie

Die vermoë om vir COVID-19 te toets in afvalwater, stel wetenskaplikes in staat om die verspreiding van die virus op te spoor en asimptomatiese brandpunte te identifiseer sonder om miljoene individue te toets. Afvalwatertoetsing dien dus as ‘n vroeë waarskuwingstelsel vir moontlike uitbrake. Akkuraatheid in hierdie verband word verseker deur gereelde monsterneming by die rioolinlaat voordat dit na die rioolaanleg versprei word waar die behandeling toegepas word. Hierdeur kan wetenskaplikes die virus naspeur na buurte wat in dieselfde rioolstelsel invloei.

Hou die masker aan en maak die toiletdeksel toe

Die COVID-19-virus word meestal versprei deur druppels wat in die lug hang nadat iemand gehoes of genies het. Kleiner misdruppeltjies kan egter in die lug bly hang nadat die groter deeltjies al neergedaal het. Dit geld nie net vir mondelinge oordrag nie, maar ook vir fekale oordrag. ‘n Studie wat vroeër vandeesmaand gepubliseer is, het getoon dat die oordrag kan plaasvind wanneer die toilet gespoel word, deur die aërosolisering van die virus wat in die water is. Deur simulasies het wetenskaplikes getoon dat ‘n “massiewe opwaartse beweging van virusdeeltjies waargeneem word, met 40%–60% deeltjies wat bokant die toilet hang, wat tot grootskaalse verspreiding van virusse kan veroorsaak” (Li, Wang en Chen: 2020).

Instandhouding en onderhouding van infrastruktuur

Mislukking van munisipale infrastruktuur onderhoud en riooloorlope is volgens prof Turton ‘n “tydsame ontwikkeling van ‘n ramp.” Ons in Fichardtpark weet dit al te goed as u al ooit in Du Plooysingel, Van Rippensingel of Beddystraat gery het. Daarom is die voorkomende instandhouding van ons rioolinfrastruktuur noodsaaklik as dit kom by ‘n virus wat tot vier dae in ontlasting kan bly (om nie eers van alle ander siektes te praat nie).

Om ‘n gesonde omgewing vir inwoners te verseker, doen Colin Povall van Drain Busters, namens FWA-lede,  elke agt weke voorkomende instandhouding van die rioolstelsels in Fichardtpark.

Laastens moet u onthou dat die oordragsyfers via toiletpluim spesifiek vir COVID-19 nie goed gedokumenteer is nie, slegs met ander koronavirusse soos SARS. Boonop, wat die virus in oorloop van rioolwater betref, sê prof Turton: “Dit beteken nie dat die virus steeds aansteeklik is nie, hoewel daar ‘n mate van fekale-orale oordrag in gelykwaardige-geëvalueerde literatuur genoem word, ten minste van die SARS-virus.” Nietemin is rioolepidemiologie en toetsing ‘n goedkoop manier vir COVID-19-massatoetsings wat Suid-Afrika baie nodig het.

Chanté van Biljon


Fichardtpark misdaadbekamping

Ons almal het die behoefte om in ‘n veilige omgewing te bly en te werk. In 2014 stel die Fichardtpark Woonbuurt Assosiasie ons 100% Misdaadvryplan bekend. Hierdie plan het gegroei sodat ons vandag diensvlakooreenkomste met 7 verskillende sekuriteitsmaatskappye in plek het. Die hoeksteen van hierdie misdaadplan is Parkweg polisiestasie se Gemeenskap Polisieforum. Dit is hier waar misdaadinligting gedeel word en patrollies en padblokkades beplan word.

Dit is juis tydens hierdie misdaadvoorkomingspatrollies dat dit duidelik geword het dat daar nog baie gedoen kan word om ons eie misdaadvrye omgewing daar te stel. Daar is te veel oop hekke en motorhuise wat waargeneem word tydens hierdie patrollies. Dit is elke inwoner se verantwoordelikheid om hul eiendom te beskerm teen misdaad. Dit sluit roerende eiendom, soos byvoorbeeld motorvoertuie, in. Ons inwoners kan help deur betrokke te raak by ons patrollies. 

Die meeste misdaad word deur die dag gepleeg en is geleentheidsmisdade. Fichardtpark se misdaadpatroon wys duidelik dat daar waar daar baie menslike beweging is daar ‘n hoër misdaadrisiko is. Ons winkelsentrums, hospitaal en sosiale kuierplekke word geteiken deur hierdie geleentheids misdadigers.

Patrollies is die ruggraat van enige goeie misdaadvoorkomingsplan. Ons sekuriteitsspan ry gemiddeld 25000 km patrollies per maand. Daar is ‘n skerp afname in Fichardtpark se misdaadsyfer sedert 2014. Dit is ‘n duidelike bewys dat Fichardtpark Woonbuurt Assosiasie alles in sy vermoë doen om Fichardtpark te beveilig.  Ons sekuriteitsspan werk elke dag aan ons droom om van Fichardtpark ‘n 100% misdaadvrye woonbuurt te maak. 

Hoë risiko areas tans:

  • Buite Rosepark Hospitaal: Diefstal van motorvoertuie, diefstal uit motors en die onwettige parkering van motors. 
  • Pick ‘n Pay Southern Centre: Diefstal van bankkaarte.
  • Huisbrake: Huise wat nie aktiewe sekuriteitsmaatskappye alarmsstelsels het nie word geteiken. 

Moenie deel word van die misdaadstatistiek nie! Tree voorkomend op deur die volgende te doen:

  • Parkeer voertuie in sigbare en gekontroleerde areas, wat sal voorkom dat misdadigers geleentheid het en genoeg tyd het om hulle misdaad te pleeg.
  • Wees bedag wanneer u waardevolle items in u motor laai of uitlaai vir mense wat u dophou.
  • Bêre waardevolle items (soos handsakke en skootrekenaars) in die kattebak in plaas van op die sitplekke of waar dit met die blote oog gesien kan word.
  • Bêre items wat rondstaan en waarde het (soos fietse, tuingereedskap, elektroniese en meganiese toestelle) buite sig. 
  • Wees bedag wanneer u die OTM gebruik; moet niemand toelaat om hulp te verleen of selfs te sien wat op die OTM plaasvind nie. 
  • Kry ‘n sekuriteitsmaatskappy om sigbaarheid en veiligheid by u huis op te knap.
  • Maak seker dat alle sekuriteitsmaatreëls in plek is voordat u gaan rus (veiligheidshekke, motorhuise en vensters). 
  • Sit beligting rondom die woning; aktiveer alarms.

Wat beïnvloed reaksietyd in ‘n noodgeval?

  • Verkeerstoestande
  • Padreëls wat gehoorsaam moet word
  • Weersomstandighede
  • Kommunikasie tussen die kliënt, die beheerkamer en die reaksie offisier.

Malcolm Mostert


Comment(1)

  1. REPLY
    Jan Botha says

    Baie dankie vir al die harde werk en deeglike en insiggewende terugvoer. Dit word waardeer!

Lewer kommentaar

I accept the Privacy Policy