Bron: https://www.netwerk24.com/Nuus/Munisipaliteite/groot-frustrasie-oor-donker-strate-in-bfn-20200206
Daar heers groot frustrasie in Bloemfontein en die res van die Mangaung-metrogebied oor talle straatligte wat morsdood is.
Prof. Fief van der Merwe, DA-raadslid, sê een van die dinge wat die DA-raadslede hier die meeste irriteer, is die straatligte en die pyne wat hiermee gepaard gaan om Centlec, die kragverspreider van die metro, te probeer oorreed om dit te herstel.
Raadslede moet tot vyf keer dooie straatligte aanmeld voordat iets daaraan gedoen word.
“Dikwels raak ons so moedeloos dat ons net soos die inwoners moed opgee totdat daar ’n wonderwerk gebeur en die ligte een aand skielik weer brand.”
Hy sê as raadslede so sukkel om amptenare in die hande te kry, verstaan hulle as inwoners soms tot so lank as ’n halfuur moet sukkel tot iemand die telefoon beantwoord.
“Net soos die inwoners wag ons soms totdat die foon net doodgaan. Dit help ook nie altyd om boodskappe te los dat jy teruggebel word nie. Dan moet ons maar SMS’e stuur. Die meeste van die SMS’e word ook nie eens beantwoord nie.
“Om amptenare by die munisipale bestuurder of burgemeester te verkla, help ook niks want hulle is nog treuriger as die amptenare.”
Prof. Fief van der Merwe sê die Mangaung-metro se dienslewering is kommerwekkend. Pale is verroes en straatnaambordjies is weg, terwyl die straatligte nie brand nie. Foto: Netwerk24
Van der Merwe sê ’n paar DA-raadslede het Centlec se hoofde oor die dooie straatligte gaan spreek. “Ons het ons frustrasies met die amptenare bespreek.”
Hy sê volgens die amptenare het hulle nie geld om gloeilampe te koop nie en soms moet hulle maande wag vir ’n paar rand wat aan hulle toegeken word.
Hy sê in ’n stadium het hulle net geld gehad om groter gloeilampe te koop om sodoende die hoofroetes se ligte te laat skyn.
Tans is dit nog steeds die geval, wat verklaar waarom honderde gloeilampe in ander strate dood is, sê hy.
“ ’n Groter frustrasie is die straatligte wat in die dag brand. Hoeveel geld van die belastingbetaler word nie gemors nie, omdat elektrisiteit in Suid-Afrika baie duur is. Boonop leef ons in die vrees dat ons enige oomblik – partykeer sonder waarskuwing – beurtkrag kry,” sê hy.
Hy sê die inwoners moet water en elektrisiteit spaar, terwyl die munisipaliteit nie veel doen om te help nie.
“Die raadslede in Mangaung en ook die ander sfere van regering verstaan blykbaar nie mooi wat besparing beteken nie. Dit is natuurlik omdat hulle met ander mense se geld werk,” sê Van der Merwe.
“Dan het ons nog nie eens uitgekom by die tientalle kragonderbrekings wat ons die afgelope tyd getref het nie. Inwoners in sekere gebiede moes dae wag voordat die probleme uitgeskakel is. Net die ligte van sommige inwoners het gewerk, maar die muurproppe het nie krag gehad nie. In ander gevalle het die munisipaliteit weer inwoners se geisers afgeskakel, maar ná dae is die skakelaar wat die geisers aktiveer, nog nie weer aangeskakel nie.”
Van der Merwe sê dit gebeur ook dikwels dat die noordelike dele van die stad nie water het nie omdat weerlig die reservoir se pompe laat uitskop.
“Eers as die reservoir leeg is, gaan skakel hulle die pompe per hand aan en dan is daar weer water, natuurlik totdat die reservoir oorloop, dan word die pompe per hand weer afgeskakel en so gaan dit aan totdat die weerlig weer die pompe uitskop.
“Nee wat, inwoners, vir so ’n hopelose spul kan geen kieser vir die ANC in die volgende munisipale verkiesing stem nie. En moet vir geen oomblik dink dat die geldsake sal verbeter as die metro onder administrasie is nie.”
Lele Mamatu, woordvoerder van Centlec, sê alle straatligte word steeds reggemaak en Centlec het ’n span werkers hiervoor. “Dit kan wees dat die span in ’n woonbuurt al die ligte reggemaak en toe na ’n ander woonbuurt aanbeweeg het om die straatligte daar reg te maak. Hulle sal dan eers wanneer hulle daardie woonbuurt se straatligte almal reggemaak het, weer teruggaan na die eerste woonbuurt as daar nuwe ligte stukkend is.”
Hy sê dit is nie ’n kwessie dat net ligte op die hoofpaaie reggemaak word nie en daar is genoeg geld om die straatligte reg te maak.
Mamatu sê raadslede kan vir hom die lys van stukkende straatligte in woonbuurte bring, wat hy vir die span sal gee.
Deur: Marietjie Gericke